Thursday, December 3, 2020

Fees van die Ongenooides deur PG du Plessis

Die Suid-Afrikaanse Oorlog is 'n tydperk van ons land se geskiedenis waarin ek belangstel, en my ma het toe vir my haar kopie van PG du Plessis se Fees van die Ongenooides geleen. Ek het geweet die onderwerp gaan baie swaar wees, maar ek was glad nie voorberei nie. Laat ek ook sê dat Du Plessis is van die min mansskrywers wat oortuigend van 'n vrou se perspektief 'n verhaal kan tel. 


Fees van die Ongenooides
is op die oog af die verhaal van die Van Wyk familie, hul bywoners, en die individue wat in hulle omkring wentel. Du Plessis vloei naatloos van karakter tot karakter en al spring die storie tussen die hede en die verlede, is dit wel gedaan. Die oorweldige tema is die van verlies, en hoe díe wat oorleef nie sonder letsels is nie. Elk een het sy eie manier om deur die swaarkry te kom. 

Elke karakter se storie is hartskeurend, al is hulle, soos blink Daantjie, iemand wat ek graag in sy gat skop. Magrieta se lyding was swaar, maar haar mooiheid het staal weggesteek. Fienatjie met haar drome wat bewaarheid word het 'n anderwêreldse rilling in gebring. Maar oor alles vergeet lesers nooit hoe aaklig oorlog is nie, hoe die wreedheid dikwels die slegste in mense uitbring. 

Hierdie roman was vir my moeilik om te lees. Nie noodwendig omdat ek worstel met my moedertaal nie, maar liewer omdat daar so veel hartseer in die storie is. Dood en wreedheid is vollop by die einde, en 'n groot deel van die roman vind plaas in 'n konsentrasiekamp – maar ook 'n bewondering van menswees. Du Plessis se taalgebruik het my heeltemaal meegevoer.

No comments:

Post a Comment