Saturday, April 16, 2022

Diep Spoor deur Jeanette Stals

Suid-Afrika se geskiedenis is propvol stories waar die menigte kulture van hierdie land met mekaar bots. Op skool het ek geleer van die Voortrekkers, maar Jeanette Stals het die stryd vir oorlewing gedetailleerd uitgebeeld in haar roman Diep Spoor. En 'n baie beter moeite gedoen as die onnies op skool wie ons basies aan die slaap verveel het.


Diep Spoor
is op die oog af die verhaal van drie vrouens wie deur omstandighede buite hulle kontrole bymekaar kom. Katrien is oorspronklik gelukkig getroud met haar man Gerrit op Stellenbosch, maar 'n ongeluk sien haar vroeg 'n weduwee. Maar haar getroue slavin Dina staan haar by. Die twee het saam grootgeword op Katrien se ouers se plaas, en is meer susters as eienaar en slaaf. Altwee is dromers. As her lewe anders was, so Katrien graag 'n kunstenaar wees, maar haar kosbare waterwerfkussie word meestal ver weg gepak. Dina droom van 'n lewe waar daar romantiese liefde vir haar is, maar haar opsies as 'n slavin is maar skraal op die werf. Heel aan die ander kant van die land is Thabisa, 'n amaZulu meisie wie van jonk af meegesleur word deur die geweld tussen haar mense. Sy verloor omtrent haar hele familie behalwe haar broer. Sy is kwesbaar, en die hele tyd sukkel sy om aanvaar te word. 

Ek gaan nou nie die hele storie verspil nie, behalwe om te sê dat Stals het 'n uitdagende verhaal aangepak wat goed illustreer who ingewikkeld ons land se geskiedenis is. Konsepte van grondbesit was toe heel anders, en die botsing tussen bevolkingsgroepe wat met veeboerdery doenig is, is maar 'n resep vir groot ramp. Wat Stals goed doen is om die menslikheid van haar karakters voor te bring, sodat lesers meegevoel kan hê vir Katrien, Dina, en Thabisa.

Ek het gevoel dat Thabisa se storie 'n bietjie lig om die broek was, asook Dina s'n, en daar was tye terwyl ek gelees het dat ek gevoel het dat daar beter motivering kon wees vir hulle gedrag. Maar dit het nie van die storie te veel weggeneem nie. Al het ek min of meer geweet wat gaan gebeur daar anderkant die Drakensberg. Hierdie verhaal is soms verskriklik hartverskeurend maar hy bring ook hoop vir die algemene menslikheid wat kan groei tussen die wat van verskillende agtergronde onstaan.  

No comments:

Post a Comment