Wednesday, April 5, 2023

Die Drie Lewens van Hannli Human deur Connie Luyt

Elke nou en dan tel ek spontaan 'n boek op, en Die Drie Lewens van Hannli Human deur Connie Luyt is een waaroor ek glad nie spyt voel nie. Ons leer Hannli ken, van kleintyd af in Kenia, waar sy en haar familie moes wegvlug gedurende die MauMau-aanvalle, en hoe haar familie toe na Suid-Afrika kom. Hannli is baie na aan haar ouma Hannie, wie die gawe van voorkennis besit. Hannie vertel haar dat sy drie lewens sal hĂȘ, en die storie ontwikkel ook in drie dele. Ons sien hoe 'n ramp Hannli tref terwyl sy op universiteit is, maar haar ouma is daar vir haar, al is dinge baie hartseer.


Later trou Hannli met 'n man wat, kom ons wees eerlik, is nie die beste ou nie. Maar sy byt vas sodat haar dogtertjie Nell ten minste nie 'n gebroke huwelik moes ondervind nie. Nadat Buks oorlede is, verhuis Hannli na KwaZulu-Natal, en 'n heel ander deel van haar lewe begin.

Oppervlakkig is hierdie roman maar net 'n lewenstorie, maar dis ook meer – dit is 'n verhaal oor familie, die wat met bloed verwant is en die wat gevind word langs die pad. Connie skrywe diep uit haar hart, en al is Hannli soms 'n onbetroubare verteller van haar eie storie – daar is dinge wat sy nie direk in die gesig tuur nie – is haar storie ook boeiend. 

Daar is nie groot avonture nie, nie enige enorme dinge wat gebeur nie, maar tog is dit 'n verhaal wat deurdring na die kern van 'n mens se lewe. En dit was vir my pragtig hoe al die los toutjies aan die einde van die storie bymekaar gebring is – op die drumpel van te gerieflik, maar inderdaad op 'n manier wat vir my 'n bietjie beter oor die mensdom laat voel.

No comments:

Post a Comment