Op universiteit ontmoet sy haar bosom-vriendin Flooze, wie so selfgesentreerd is, dat ek die hele tyd net vir Libbi uitskel dat hierdie vroumens nie goed vir haar is nie. En dat Flooze haar net gebruik. Maar Libbi moet maar self leer, en dit gaan nie mooi wees nie. Libbi se kop draai net om mans, en sy kry vir haar 'n man, maar ek voel dat dit meer die simbool van 'n man is wat vir haar belangrik is, en nie dat die man haar vriend is nie. Die hele huwelik, as jy vir my vra, is 'n ramp. Ek was sommer vies vir jaar die hele tyd.
Sunday, May 14, 2023
Die Lang Papawer deur Kristel Loots
Op universiteit ontmoet sy haar bosom-vriendin Flooze, wie so selfgesentreerd is, dat ek die hele tyd net vir Libbi uitskel dat hierdie vroumens nie goed vir haar is nie. En dat Flooze haar net gebruik. Maar Libbi moet maar self leer, en dit gaan nie mooi wees nie. Libbi se kop draai net om mans, en sy kry vir haar 'n man, maar ek voel dat dit meer die simbool van 'n man is wat vir haar belangrik is, en nie dat die man haar vriend is nie. Die hele huwelik, as jy vir my vra, is 'n ramp. Ek was sommer vies vir jaar die hele tyd.
Wednesday, April 5, 2023
Die Drie Lewens van Hannli Human deur Connie Luyt
Elke nou en dan tel ek spontaan 'n boek op, en Die Drie Lewens van Hannli Human deur Connie Luyt is een waaroor ek glad nie spyt voel nie. Ons leer Hannli ken, van kleintyd af in Kenia, waar sy en haar familie moes wegvlug gedurende die MauMau-aanvalle, en hoe haar familie toe na Suid-Afrika kom. Hannli is baie na aan haar ouma Hannie, wie die gawe van voorkennis besit. Hannie vertel haar dat sy drie lewens sal hê, en die storie ontwikkel ook in drie dele. Ons sien hoe 'n ramp Hannli tref terwyl sy op universiteit is, maar haar ouma is daar vir haar, al is dinge baie hartseer.
Later trou Hannli met 'n man wat, kom ons wees eerlik, is nie die beste ou nie. Maar sy byt vas sodat haar dogtertjie Nell ten minste nie 'n gebroke huwelik moes ondervind nie. Nadat Buks oorlede is, verhuis Hannli na KwaZulu-Natal, en 'n heel ander deel van haar lewe begin.
Oppervlakkig is hierdie roman maar net 'n lewenstorie, maar dis ook meer – dit is 'n verhaal oor familie, die wat met bloed verwant is en die wat gevind word langs die pad. Connie skrywe diep uit haar hart, en al is Hannli soms 'n onbetroubare verteller van haar eie storie – daar is dinge wat sy nie direk in die gesig tuur nie – is haar storie ook boeiend.
Daar is nie groot avonture nie, nie enige enorme dinge wat gebeur nie, maar tog is dit 'n verhaal wat deurdring na die kern van 'n mens se lewe. En dit was vir my pragtig hoe al die los toutjies aan die einde van die storie bymekaar gebring is – op die drumpel van te gerieflik, maar inderdaad op 'n manier wat vir my 'n bietjie beter oor die mensdom laat voel.
Thursday, December 3, 2020
Fees van die Ongenooides deur PG du Plessis
Die Suid-Afrikaanse Oorlog is 'n tydperk van ons land se geskiedenis waarin ek belangstel, en my ma het toe vir my haar kopie van PG du Plessis se Fees van die Ongenooides geleen. Ek het geweet die onderwerp gaan baie swaar wees, maar ek was glad nie voorberei nie. Laat ek ook sê dat Du Plessis is van die min mansskrywers wat oortuigend van 'n vrou se perspektief 'n verhaal kan tel.
Fees van die Ongenooides is op die oog af die verhaal van die Van Wyk familie, hul bywoners, en die individue wat in hulle omkring wentel. Du Plessis vloei naatloos van karakter tot karakter en al spring die storie tussen die hede en die verlede, is dit wel gedaan. Die oorweldige tema is die van verlies, en hoe díe wat oorleef nie sonder letsels is nie. Elk een het sy eie manier om deur die swaarkry te kom.
Elke karakter se storie is hartskeurend, al is hulle, soos blink Daantjie, iemand wat ek graag in sy gat skop. Magrieta se lyding was swaar, maar haar mooiheid het staal weggesteek. Fienatjie met haar drome wat bewaarheid word het 'n anderwêreldse rilling in gebring. Maar oor alles vergeet lesers nooit hoe aaklig oorlog is nie, hoe die wreedheid dikwels die slegste in mense uitbring.
Hierdie roman was vir my moeilik om te lees. Nie noodwendig omdat ek worstel met my moedertaal nie, maar liewer omdat daar so veel hartseer in die storie is. Dood en wreedheid is vollop by die einde, en 'n groot deel van die roman vind plaas in 'n konsentrasiekamp – maar ook 'n bewondering van menswees. Du Plessis se taalgebruik het my heeltemaal meegevoer.


