Ek is al vir ’n lang tyd gefassineerd met die lewe van Doktor James Barry, ’n Engelse doktor wie gedurende die jare van 1816 tot 1827 aktief was in die Kaapse Kolonie. Maar die ding is, James was geen man nie, maar ’n vrou. Die enigste manier wat destydse Margaret Anne Bulkley geneeskunde kon studeer was om vir haarself as ’n jong man voor te gee – dus het sy James Barry geword. So suksesvol was die aanpassing van identiteit dat Margaret heeltemal in James weggeraak het, en toe James by die weermag aansluit, het ’n hele ander wêreld vir hom ontvou. As mense ooit iets van die waarheid verdag het, het dit nooit uitgekom nie – eers na sy dood in 1865.
Die Kapokdokter deur François Loots is ’n fiktiewe narratief wat vrae stel meestal oor identiteit. Meeste van die storie speel af gedurende die tyd wat James in die Kaapse Kolonie geneeskunde beoefen het – en ons sien hoe hy geworstel het met sy verlede en hede binne die konteks van die gesig wat hy vir dié rondom hom wys en wat hy innerlik voel. Die stres van sy geheim is groot, en al sukkel James met die verskillende situasies waarin hy homself bevind in die Kaap, moet hy nog boonop nog vir almal die mees belangrike geheim wegsteek. Ek sal maar sê: dis gekompliseerd.
Ek het in die begin ’n bietjie gesukkel met die styl – en het gevoel asof Loots doelbewus inligting wat James sal weet van lesers weerhou – maar die verhaal speel hom mooi uit, so dit was nie iets wat vir my die einde van die wêreld was nie. Ek voel diegene wie van historiese romans hou, en nuuskierig is oor James se lewe, hierdie boek sal geniet. Dis ’n stukkie van die Kaapstad van die vroeë negentiende eeu wat lewe vind tussen die blaaie deur die lens van ’n besondere mens.
No comments:
Post a Comment